Jupiter se natuurlike satelliete

’n Montage van Jupiter en sy grootste vier mane, die mane van Galilei.
Die relatiewe massa van Jupiter se mane. Dié wat kleiner as Europa is, is op hierdie skaal onsigbaar, en saam sou hulle net-net sigbaar gewees het teen ’n vergroting van 100x.

Jupiter het 79 bevestigde mane.[1][2][3] Die grootstes van hulle, die vier mane van Galilei, is in 1610 deur Galileo Galilei ontdek en was die eerste voorwerpe wat gevind is wat om ’n liggaam wentel wat nie óf die Aarde óf die Son is nie. Sedert die einde van die 19de eeu is tientalle kleiner Jupiter-mane ontdek wat die name gekry het van minnaresse of dogters van die Romeinse god Jupiter of van sy Griekse eweknie, Zeus. Die mane van Galilei is verreweg die grootste voorwerpe wat om Jupiter wentel, met die oorblywende 62 mane en die ringe wat saam net 0,003 persent van die hele Jupiter-stelsel uitmaak.

Agt van Jupiter se mane is reëlmatige satelliete. Hulle wentel dus in dieselfde rigting as wat die planeet draai en het redelik sirkelvormige wentelbane. Die vier mane van Galilei is ellipsvormig omdat hulle planetêre massa het en sou dus as dwergplanete geklassifiseer gewees het as hulle direk om die son gedraai het. Die vier ander reëlmatige satelliete is baie kleiner en nader aan Jupiter; hulle is die bron van die ruimtestof wat Jupiter se ringe uitmaak.

Die res van Jupiter se mane is onreëlmatig. Hul wentelbane is verder van die planeet af en het groot hellingshoeke en wentelbaanafwykings. Hierdie mane is waarskynlik van ’n ander wentelbaan om die son aangetrek en in ’n baan om Jupiter gevange gehou. Daar is 16 onlangs ontdekte onreëlmatige satelliete wat nog nie name gekry het nie.

  1. Sheppard, Scott S. "The Jupiter Satellite and Moon Page". Carnegie Institution, Department of Terrestrial Magnetism (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 18 Mei 2020. Besoek op 17 Julie 2018.
  2. Resnick, Brian. "The Jupiter Satellite and Moon Page". Vox (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 17 Julie 2018. Besoek op 17 Julie 2018.
  3. Science, Carnegie (16 Julie 2018). "A dozen new moons of Jupiter discovered, including one "oddball"". Carnegie Institution for Science (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 2 Desember 2019. Besoek op 17 Julie 2018.

From Wikipedia, the free encyclopedia · View on Wikipedia

Developed by Tubidy